Header Main
12 May 2012

Heerlik gekattemaai!

Geen Kommentaar Ander

Nicholis Louw tydens die programbekendstelling

Die amptelike programbekendstelling van alles wat op vanjaar se Innibos Kunstefeesprogram verwag kan word het op 10 Mei 2012 in Nelspruit plaasgevind. Die bekendstelling is vanjaar vir die eerste keer as ’n publieke bekendstellingskonsert aangebied, en letterlik duisende mense het by Bergvlam byeengekom om die geleentheid by te woon.

Die Innibos feesprogram, wat vanaf 27 tot 30 Junie strek, bied vanjaar weer ’n fees van toneel, musiek, boeke en kuns aan. Op die toneelfront kan feesgangers uitsien na Die Van Aardes van Grootoor, uit die pen van Pieter-Dirk Uys. Hierdie klassieke verhoogstuk, met Anna-Mart
van der Merwe en Marion Holm onder andere in die rolverdeling, beloof om gehore van voor af te verower. Toe dit 23 jaar gelede vir die eerste maal opgevoer is,het dit ’n twee jaar ononderbroke speelvak geniet. Toneelproduksies soos Grieta kry geleerdheid, met Chris van Niekerk en Lulu Botha in die hoofrolle en die bekroonde toneelstuk, Mooi Maria is verdere hoogtepunte op die toneelprogram. Voor ek vergeet, met
Amanda Strydom, wat vir die eerste keer in 23 jaar haar talent as aktrise weer op die verhoog ten toon stel, het vol sale by die ABSA KKNK getrek en beloof om dieselfde by Innibos te doen. Marthinus Basson se geniale aanbieding van die teaterstuk Die vrou vantevore met Brümilda van Rensburg, Stian Bam en Erica Wessels in die hoofrolle gaan eweneens gehore op die voorste punt van hul stoele vasgenael hou.

Komedie is altyd ’n belangrike deel van die Innibos-program en stukke soos My vrou se man se vrou, met die immergewilde Tobie Cronjé, Neels van Jaarsveld in Pa…vir Dummies, Buurtwag, Dowwe Dolla Dink Diep en Neels Clasen in die skreeusnaakse Annale van ‘n  Windgat gaan sorg vir genoeg ligte oomblikke. Kopstukke, die bekroonde donker komedie van Jeanne Goosen met Lizz Meiring en André Stolz  (wat ook in die oorspronklike speelvak 20 jaar gelede die rolle vertolk het) in die rolverdeling bring lag met ’n traan.

Op die musiekfront bied Innibos vanjaar ’n debuutproduksie aan waarin Chris Chameleon en die Drakensberg Seunskoor saam optree in die Sudwala Grotte. Hierdie produksie word spesiaal vir Innibos geskep. Chris se droom was om deel van die Drakensberg Seunskoor te wees. Dit was hom nie beskore nie, en om saam aan hierdie produksie te kon werk was in baie opsigte vir hom én die Seunskoor ’n droom wat waar geword het. Die produksie heet, heel gepas, Dreams.

Op die klassieke front word ‘n interessante produksie aangebied met ’n verskeidenheid klassieke musici wat kort musikale programme in vertrekke van ’n pragtige Toskaanse gastehuis gaan lewer. Jannie Moolman, die Drakensberg Kamerkoor, Zanta Hofmeyer en Susan Mouton is onder andere deel van hierdie program. Coeniede Villiers, Laurika Rauch en Romanz en Nianell sorg vir uitstekende balans en verskeidenheid in die musiekprogram.

Die Rapport Boeke-crawl en die Sappi Boeke Oppistoep-program beloof heerlike pitkos vir boekeliefhebbers. Die crawl neem besoekers op ’n interessante woord- en klankreis in die romantiese dorpie Kaapsehoop. Met skrywers, woordkunstenaars en musici soos Johan Bakkes, Jannie du Toit en Paul Eilers op die program is dit ‘n geleentheid wat feesgangers nie durf misloop nie! By die Boeke Oppistoep-program gaan Jannie du Toit, Johan Bakkes en Riaan Cruywagen oor hul boeke en skryfwerk gesels. Lochner de Kock en Jannie du Toit gaan ook hul Cordon Broers Kôssert aanbied waarin boeke, kos en musiek gekombineer word.

Die leefstylproduksie, Boeke Bacchus en Brood, met Lizz Meiring, Jak de Priester en Ilse Salzwedel is ’n unieke wyn– en nartjieproe, gekombineer met musiek en woordkuns.

Vanjaar se feeskunstenaarsuitstalling bied, in teenstelling met die ernstige aard van verlede jaar se uitstalling deur die veelbekroonde Diane Victor, letterlik ’n visuele blaaskans. Die uitstalling deur Diek Grobler en Craig Muller is in alle opsigte ’n speelse verkenning van die moontlikhede wat daar in die visuele realm skuil. Beide hierdie kunstenaars het al nasionaal en internasionaal uitgestal en geniet wyd erkenning in hul onderskeie genres. Diek is ook die skepper van vanjaar se amptelike feeskat vir die feesreklame.

Soos gewoonlik is die feesterreinprogram by Bergvlam Hoërskool ‘n luisterfees met al die land se gewildste kunstenaars wat optree. Steve Hofmeyr, Elvis Blue, Theuns Jordaan en Jakkie Louw is maar ’n paar van die kunstenaars wat in die feesterreinkonserte op die Standard Bank-verhoog gaan optree. Op Saterdagaand, by die JacarandaFM-konsert, gaan The Parlotones die verhoog deel met gewilde sangers Juanita du Plessis, Riana Nel, Kurt Darren, Nicholis Louw en Robbie Wessels. Die fees word oudergewoonte op Sondag 1 Julie afgesluit met die gratis
ATKV Loof Hom Innibos-konsert waarin kunstenaars soos Joe Niemand, Liesl Marx en Manie Jackson optree.

Daar is vier gratis musiekverhoë op die feesterrein wat musiek vir alle smake aanbied. Die MK rock-verhoog, met aKING, Van Coke Kartel, Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar op die program beloof om die jongklomp gelukkig te hou. Die KMIA Kunspark-verhoog bied ligte luistermusiek, en die Huletts en Klipdrift-verhoë bied ’n wye verskeidenheid populêre musiek van vroeg tot laat. Kunstenaars soos Adam, Willem Botha, Charlize Berg en die Radio Kalahari Orkes tree hier op.

‘n Nuwigheid op die feesterrein is die Boma Kuierteater. Hierdie gratis toneelvenue op die feesterrein spog met akteurs soos Lizz Meiring, Paul Eilers, Melt Sieberagen, Karen Wessels en die mimiekkunstenaar John Jacobs op die program. ’n Aantal opkomende akteurs is ook hier te sien. “Met hierdie nuwe venue poog ons om die aanbieding op die feesterrein te verbreed om nie net musiek in te sluit nie. Dit bied die gemiddelde feesganger gratis toegang tot puik kort toneelproduksies en stel teater dan ook hierdeur aan nuwe gehore bekend,” sê Sandra Jacobs, die fees se bemarkingsbestuurder.

Kaartjies vir die Innibos feesterrein en vir al die feesproduksies is vanaf Maandag 14 Mei landwyd beskikbaar by Computicket. In Nelspruit kan kaartjies ook by die feeskantoor en verskeie sentrale punte gekoop word.

04 May 2012

Innibos gee hierdie jaar VIER toekennings

Geen Kommentaar Ander

Innibos maak jaarliks verskeie toekennings. Jannie du Toit word hierdie jaar vereer vir sy lewenslange bydrae tot die musiekwêreld en vir die diep spore wat hy getrap het in dié industrie. Pieter Fourie word vereer vir sy uitnemende bydrae in die teaterwêreld en vir sy uitsonderlike skryftalent en kreatiwiteit.

Dan is daar nog twee toekennings wat eers ná die fees toegeken gaan word. Die een is die Gewildste Feesproduksie wat bepaal word deur kaartjieverkope. Chris Chameleon het hierdie toekenning ’n paar jaar agtereenvolgens gewen. Verlede jaar het Innibos se opdragproduksie ’n Seder val in Waterkloof hierdie prys verower. Die tweede is die Grootste Kunstenaarsbydrae. Enige kunsvorme kan hiervoor in aanmerking kom.

Die bekende beeldhouer, Arend Eloff, skep vir Innibos die brons- en-silwer beelde. Arend is die oudste seun van die bekende skilder, Zakkie Eloff, en het net buite Witrivier opgegroei. Die beeld wat hierdie jaar toegeken word, is die laaste van ’n trilogie. Die eerste was ’n man met vlerke wat onbeperkte skeppingskrag gesimboliseer het. Die tweede was ’n vrou wat die sagtheid en soepelheid van dans voorgestel het. Hierdie jaar is dit ’n beeld van ’n kind wat die vryheid van kindwees simboliseer.

Vir meer inligting oor die toekennings, besoek ons webtuiste by www.innibos.co.za.

 

 

 

26 Apr 2012

Is jy die katjie van die baan?

Geen Kommentaar Ander

Dis nou 'n kwaadkat!

Is jy die katjie van die baan vir 2012? Innibos is nege jaar oud, en soos die spreekwoordelike kat met nege lewens, gaan daar vanjaar heerlik gekattemaai word by die fees!

Daar vind hierdie jare vele opwindende dinge op die Innibos-feesterrein plaas. Daar is ’n opwindende (s)kattejag waar feesgangers wonderlike pryse kan wen. Hou die webtuiste dop vir verdere inligting.

Dan gaan daar elke aand lekker katte geskiet word, maar nie van te veel voggies nie.  Sagte speelgoed met aanloklike pryse binne-i ngaan oor die skare geskiet word met ’n reuse kettie. Maak seker dat jy en jou vriende ’n lynstaan vorm om dié kat te  vang.

Saterdagaand  word die grootste kat temapartytjie gehou wat Suid Afrika nog ooit gesien het. Alle  feesgangers word uitgenooi om Saterdag in kat-kostuums Innibos toe te kom. Gaan  trek daardie katpak van jou aan, verf jou gesig en maak seker dat jy raakgesien  word. Innibos bied in samewerking met Coca-Cola ’n kompetisie aan en die oulikste en oorspronklikste feeskat kan R10 000 en ’n skootrekenaar wen. Kry
dus jou katmondering reg en kom vier fees saam met ons!

20 Apr 2012

Innibosspan by die KKNK

Geen Kommentaar Ander

Die Seder-span met hulle beeldjies

Die hele Innibosspan het die afgelope vakansie die Absa KKNK besoek. En dit was ‘n heerlike ervaring. Die twee dae se rit soontoe was maar vol slaggate (soos dit ‘n eg Suid-Afrikaanse pad betaam!). Maar ons het heerlik gesels en lekker gekuier.

Innibos besoek jaarliks die groot feeste soos KKNK en Aardklop, hoofsaaklik om produksies te gaan kyk wat ons dan ook nader vir ons program. En natuurlik werk ons baie hard gedurende ons eie fees. Dan is daar nie tyd vir kuier nie. Dus was dit heerlik om ‘n ander fees te besoek. Dit is ook verrykend om te sien hoe ander feeste dinge doen. ‘n Mens leer altyd ‘n ding of twee…

Die produksie ‘n Seder van in Waterkloof was Innibos se gewildste produksie vir 2011. Tydens die toekenningsgeleentheid het Marie Lubbe opgemerk dat dit wonderlik sal wees as elke akteur wat in dié produksie gespeel het, ‘n replika van die beeld wat deur Arend Eloff geskep is, kan kry.  In hierdie produksie was 5 oud-Laevelders in die rolverdeling  saam met groot kanonne soos Chris van Niekerk, Erica Wessels, GiGi en Waldemar Schultz. Daarom te meer is ons trots op hierdie produksie se welslae. Hierdie produksie was ‘n ko-porduksie met Absa KKNK en daarom het ons een aand na die vertoning saam met KKNK se produksiebestuur die beeldjies aan die akteurs oorhandig.

Met so ‘n uitstappie na ‘n ander fees word baie nuwe idees gebore. Dit was heerlik om die Absa KKNK te besoek, maar toe ons weer die Laeveld binnery het ons besef: die Laeveld is maar net die plek vir ons.

18 Apr 2012

Kyk uit vir die Storiesambreel!

Geen Kommentaar Ander

Wiebke Holm

Die Storiesambreelvrou is vir die eerste keer by Innibos. As jy hierdie jaar op die feesterrein rondloop, wees op die uitkyk of jy nie dié  eienaardige sambreelvrou iewers gewaar nie. Gaan pluk dan vir jouself een van die talle stories wat van haar sambreel afhang. Stories het op
haar sambreel gereën en sy vang hulle vir ’n kitsklein oomblik vas sodat oud en jonk die kans kan kry om daarna te luister. Daar is verskillende stories: van kostelike tot selfs stoute stories! Hierdie stories is natuurlik in Afrikaans, maar as jy ’n ander taal verkies, kan jy dit in Engels of selfs Duits hoor. Of wat van ’n storie sónder woorde?

 Die storievrou is geskep en gespeel deur Wiebke Holm-Mikua, wat graag met haar musiek, fabels en poppespel verbygangers se drentel- of drukgangwese met ’n kort vertelling wil verryk. As jy hierdie storievrou iewers op die feesterrein sien, roep haar nader om vir jou ’n storie
te vertel. En die allerbeste is dat dit absoluut gratis is. Kom word meegevoer na ’n verbeeldingswêreld vol fantasie.